Die Plaaskind Padstal het begin met ʼn rowwe idee op die langpad, met ʼn begeerte om in die berge te woon naby ʼn bergstroom, met ʼn visarend wat af en toe bo jou sirkel en ʼn kreet van vryheid gee.
Soos julle egter weet is drome niks sonder harde werk nie en soms moet jy VERRR buitekant die boksie dink om al die drome bokant die water te hou en te keer dat hulle nie versuip nie!
So het die Padstal gegroei van een of twee produkte met koffie en koek tot ʼn droom wat bewaarheid is en die klein hand perdjie is nou ʼn volbloed wilde hings wat aan sy eie wedrenne deelneem en ek myself gelukkig ag om in die saal te bly.
Met die groei proses het ons die Gastehuise, die Dana se Vrede Kamp grond en nou ook ons Markte bygevoeg. Die markte met ons produkte stel ons in staat om broodnodige opgraderings te maak en al ons honderde idees en drome aan ballonne vas te maak en hulle vlerke te gee. Elke mark is so ʼn ongelooflike avontuur en ervaring en my hoogtepunt is die ongelooflike mense wat mens ontmoet. Uitstallers is ʼn gemeenskap en “vibe” wat jy nie kan beskryf tot jy nie deel is van so iets nie.
Met elke mark probeer ons om te verbeter en ons produkte bekostigbaar en uniek hou .